top of page

Agtergrond en Wese

Agtergrond

In 1997 versoek 'n enkele gesin die Antipas Gereformeerde Baptiste Gemeente in die Vaaldriehoek om met 'n soortgelyke gemeente hier in Pretoria te begin. Nico van der Walt was die leraar. Aanddienste neem 'n aanvang op 25 Januarie 1998 in die saal van die Nuwe Hoop Skool in Ashlea Gardens. Op 25 April daardie jaar word die eerste lidmate opgeneem en sedert Maart 1999 het ons twee dienste per Sondag. Nog 'n groot dag vir Antipas Pretoria was 5 Maart 2000, toe ons 'n selfstandige gemeente geword het - selfversorgend en selfregerend. 

 

Ons lidmate kom van oraloor in groter Pretoria - en verder. Elkeen het sy of haar eie storie. Elkeen het ander kerklike agtergrond. Soos Nico van der Walt dit stel: “Party se kerklike agtergrond is so respektabel dat jy hulle wil salueer, ander s'n lees soos rillers. Party het elders tot bekering gekom, ander hier by ons. Party werk met wit boordjies, ander met bloues.” 

​

Karakter en Oortuigings

Vanaf die stigting van hierdie gemeente was en is die Bybel die enigste, betroubare, genoegsame en ononderhandelbare norm vir leer en lewe. 


Verder meer is ons van oortuiging dat die Bybel ten diepste oor Jesus Christus gaan. Daarom is Hy en Hy alleen die hart van ons sterk en ononderhandelbare oortuigings. Saam met C.H. Spurgeon sê ons: "I am never ashamed to avow myself a Calvinist; I do not hesitate to take the name of Baptist; but if I am asked what is my creed, I reply, It is Jesus Christ!" Dit is dus Jesus Christus wat in die eerste plek hier gepreek word, want dit is Hy wat ons sekuriteit is, ons vreugde, ons hoop - ons alles! 


Ons is evangelies - wat beteken dat ons glo in die noodsaak van wedergeboorte, bekering, heiligmaking, volharding. Hierdie verantwoordelikhede rus op alle mense - ook op gelowiges se kinders. Ons glo voorts dat evangelieverkondiging die krag van God is waardeur die Heilige Gees ons tot hierdie dinge in staat stel. 
 

Ons is gereformeerd - wat beteken dat ons skaamteloos binne die Protestantse tradisie van die 16de eeuse Reformasie staan. Gevolglik is ons saam met historiese Gereformeerdes passievol oortuig van: die vyf solas, die leerstellings van genade, die regulatiewe beginsel vir aanbidding, die verbondsbeskouing van God se verlossingsplan en die rol van God se morele wet vir die Nuwe Testament gelowige.

    
Ons is Baptiste - wat beteken dat ons 'n hoë premie plaas op die plaaslike kerk as selfstandige gemeenskap van ware gelowiges en die daarmee samehangende  belydenisdoop. Hoewel ons van harte oortuig is dat dít die Bybelse waarheid is, het ons ontspanne en liefdevolle verhoudings met talle wat sterk voel oor die kinderdoop, dog wel ons dieperliggende reformatoriese waardes deel. 

Ons is konfessioneel - wat beteken dat ons erken die 1689 Baptiste Geloofsbelydenis; nie noodwendig in elke woord nie, maar wel in elke leerstelling. Ons erken ook die verklaring van waardes van die Sola 5 assosiasie van kerke, waarvan ons ’n lidgemeente is.  

In die uitlewing van ons geloof hou ons in hierdie gemeente 3 gerigthede in balans: 


•    NA BO wil ons met God wandel en Hom in gees en waarheid aanbid. Ons wil dit saam doen. Ons gee daarom uitermate om vir korporatiewe aanbidding. Ons is meer as ‘n preeksentrum. Ons korporatiewe byeenkomste is ‘n kardinaal belangrike en lewe-gewende manier om Christus te verhoog. Ons wil hê ons verstand (intellek) en harte (emosies) moet betrokke wees tydens ons aanbidding. Juis daarom jaag ons die volgende na: ywerige, God-gesentreerde sang, gebed (elke Sondagoggend voor die erediens) en getuienis, sowel as Bybelse, Geesvervulde, God-verheerlikende prediking wat ook in die praktyk van elke dag ‘n verandering bring. 

•    NA BINNE wil ons mekaar liefhê, dien en opbou. Ons heg waarde aan verhoudings in ons lewe saam. Ons begeer om egte en praktiese maniere te vind om mekaar lief te hê en sodoende vriendskappe te bou wat ons geloof versterk. God word verheerlik as ons liefde vir mekaar oorvloedig is. Dit is juis daarom dat alle lidmate in Kuddegroepe ingedeel is en ons almal aanmoedig om in selgroepe betrokke te raak, waar werklike opbou kan plaasvind. 

•    NA BUITE wil ons diensbaar wees, eerlik en opreg in hierdie wêreld leef, en die evangelie wyd en suiwer uitdra.

​

bottom of page